Vrydag 26 Julie 2013

Poppekas: Rooikappie en die Wolf

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                       Het Mamma se hulp nodig!
Mamma se geduld vlak: Baie Laag
Koste: R0 

Vandag hou ons Poppekas! Kleuters kan self die poppies maak en die storie van Rooikappie opvoer of Mamma kan met behulp van die poppies die storie vertel. 

Gevorderde skoolbeginners kan die storie self lees voordat hulle dit opvoer. Ouer kleuters kan natuurlik ook hul eie karakters teken. Ons sluit ook klaar ingekleurde poppe in indien jy slegs wil poppekas hou sonder moeite! 

Let asseblief daarop dat die aktiwiteit skêr werk vereis, so Mamma moet ten alle tye ‘n ogie hou.

Betower jou kleuter met die wonder van ‘n opgevoerde feëverhaal!


Benodighede

Karakter Uitdrukke, inkleurpotode/kryte/viltpenne, skêr, gom, lëe ontbytgraan boks, sosatie stokkies/sjinese eetstokkies/enige houtstokkie, brëe deurskynende kleeflint.


Metode
Stap 1: Druk die karakters uit en kleur hulle in. Alternatief kan jy die klaar ingekleurde karakters uitdruk.

Stap 2: Maak ‘n lëe ontbytgraan boks oop. Smeer gom aan die agterkant van die karakters en plak dit op die dowwe kant van die boks. Druk die papier lekker stewig vas om seker te maak dat dit styf vasgeplak is. 

Stap 3: Knip die karakters versigtig uit. Mamma kan dalk help om eers die karakters losweg uit die kartondoos te knip, voordat kleuter die karakter in fyner detail uitknip.

Stap 4: Meet ‘n stokkie sodat dit ongeveer driekwart van die poppie se lengte beslaan en plak die stokkie met ‘n stukkie deurskynende kleeflint vas. Maak seker dat daar genoeg spasie onder is om die poppie te kan vashou. Jou karakters is nou gereed om hul buiging op die verhoog te maak!





Geniet die opvoering saam met jou kreatiewe kleuter!


Karakters en Storie!


Ongelukkig kan dokumente in word of pdf formaat nie op blogger gelaai word nie, maar kliek asseblief hierdie skakel en ons stuur vir jou die storie van Rooikappie en die Wolf!

Kliek op die prentjie om dit groter te maak en druk dit uit. 



















Vrydag 19 Julie 2013

Sneeuvlokkies!

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                       Het Mamma se hulp nodig!
Mamma se geduld vlak: Laag
Koste: R0 

Vandag maak ons sneeuvlokkies om die winterkoue af te weer! 

Dit is 'n lekker aktiwiteit om kleuters, voorskolers en skoolbeginners mee besig te hou terwyl dit te koud of te nat is om buite te speel. Voltooide sneeuvlokkies maak sommer terselfdertyd 'n lekker vensterversiering om die huis mee op te vrolik!

Hierdie aktiwiteit is nog baie moeilik vir twee jariges, maar met baie hulp van Mamma kan hulle dele daarvan baasraak. Die sneeuvlokkies sal met knipvaardighede, kreatiewe ontwikkeling, spasiëring en ruimte bewustheid help.

Let daarop dat knip die hoof aktiwiteit is, so Mamma moet asseblief toesig hou, veral by jonger kleuters.
 

Benodighede

Papier (Kleur/wit); skêr; garing/tou/vislyn; kleeflint/maskeerband/wondergom; viltpenne/kryte/inkleurpotlode (opsioneel).


Metode

Stap 1: Neem 'n vel A4 papier en vou dit in die helfte. Vou weer in die helfte. Vou nou twee aangrensende sye teen mekaar sodat dit 'n soort driehoek vorm.

Stap 2: Merk 'n effense ronding aan die bokant van die driehoek af. Ons het 'n glasie gebruik om 'n ronding te vorm. (Voorskolers en skoolbeginners kan vryhand teken of sommer dadelik begin knip.) Knip nou op dieafgemete ronding sodat jy 'n driehoek met 'n geronde punt het.

Stap 3: Knip nou versigting stukkies uit die driehoek. Dit hoef nie vreeslike ingewikkelende patrone te wees nie, enige klein knippie sal 'n mooi effek gee. Vou nou die vel oop en bewonder jou sneeuvlokkie!

Stap 4: Eksperimenteer met verskillende vorme en patrone. Jy kan ook die patrone op teken en uitknip.

Stap 5: Jy kan ook die papier vooraf inkleur om kleurvolle en interessante vlokkies te maak.

Stap 6: Ons het 'n son gemaak vir warmte! Vou soos in stap 1 en teken sonstrale  op die afgemete ronding en knip uit. Ons het met viltpenne spirale op die son geteken.

Stap 7: Gebruik 'n stukkie kleeflint/maskeerband om 'n lengte gare/tou/vislyn aan elke sneeuvlokkie te heg en gebruik kleeflint, maskeerband of wondergom om die sneeuvlokkie aan die bokant van 'n venster te hang.

Geniet Kreatief wees saam met jou kleuter!

 Vind en hou van ons op Facebook. Jy kan ook foto's van jou voltooide sneeuvlokkies met ons deel!


 

 


 

Donderdag 11 Julie 2013

Plakboek Pret!

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                       Het Mamma se hulp nodig!

Mamma se geduld vlak: Baie laag

Koste: R0 (As jy alles in die huis het) tot R12 (Indien jy 'n plakboek moet aankoop)

Maak ‘n plakboek wat jou kleuter ure se genot sal verskaf! 

Ons het ‘n verskillende temas vir elke bladsy gekies, byvoorbeeld kleure, polariteite (teenoorgesteldes), troeteldiere ens. So kan verskillende konsepte op ‘n prettige manier geleer word, terwyl jou kleuter(s) hom/haar ook eienaarskap vir die skepping kan toe-eien en sodoende die konsepte makliker internaliseer. Fyn motorise vaardighede, knip vaardighede en analitiese denke word ook bevorder en ontwikkel.

Vir kleiner kleuters kan ‘n plakboek gemaak word vol prentjies wat in sy/haar wêreld voorkom, byvoorbeeld prentjies oor familie, tandeborsel, troeteldiere, motor, huis, boom ensovoorts. Op hierdie manier word bekende konsepte bevestig en kreatiewe denke geprikkel.


Ouer kleuters sal die plakboek op hul eie kan maak en jy sal slegs opdragte of voorstelle hoef te gee en aanvanklik te help met die uitsoek van die korrekte prentjies. Kleuters wat nog nie knipvaardighede bemeester het nie, kan steeds help met prentjies uitsoek en plak!


Vir ouer kleuters en skoolbeginners kan die naam van elke prentjie duidelik neergeskryf word om met leesvaardighede te help. Vir jonger kleuters kan die tema van elke bladsy neergeskryf word, dit kan later help met letterherkenning, maar sal ook help vir wanneer ander volwassenens die plakboek saam met jou kleuter blaai!


Ons het ‘n dekoratiewe skêr vir sommige van die prentjies gebruik, maar dit het my kleuter baie gefrustreer omdat dit moeiliker is om te gebruik as ‘n gewone skêr. Die mooi randjies het nie ‘n verskil aan die eindproduk gemaak nie!


Indien julle ‘n baie spesifieke tema kies, soos byvoorbeeld Thomas die Stoomtrein, kan julle saam-saam prentjies op die internet soek en uitdruk indien julle toegang tot ‘n kleurdrukker het.


Vir van die konsepte het ons slegs drie of vier prentjies opgespoor en soos wat die tyd aanloop sal ons dit aanvul. Sodoende word die plakboek ‘n “lewende” dokument wat jou kleuter herhaaldelik op verskeie vlakke kan stimuleer.



My kleuter het van sy leesboekies vergeet, sy plakboek was ook sy slaaptydstorie! Hoop julle geniet die knip en plak!




Benodighede


Ou tydskrifte, prente, skêr, gom, plakboek of papier, kryte


Metode

Stap 1: Besluit op jul tema(s) en soek prentjies in ou tydskrifte wat hierby pas. Knip die prentjies uit en hou soort by soort!


Stap 2: Rangskik die prentjies soos wat julle dit wil plak op die bladsye van die plakboek. Smeer gom op die agterkant van elke prentjie en plak dit vas. Druk die prentjies lekker styf vas sodat dit stewig sit.


 Stap 3: Herhaal stap 1 en 2 totdat al die bladsye klaar is! Versier die voorblad van die plakboek.



Bladsy Voorbeelde


Plaas




Polariteite (Klein en Groot)




Troeteldiere en Kleur (Rooi)



 Lekker boekie blaai!

Geniet die kreatiewe tyd saam met jou kleuter! 
Vind ons op Facebook en bly op hoogte.
Die volgende inskrywing sal op Vrydag, 19 Julie 2013, gemaak word.

 

Saterdag 06 Julie 2013

Verkyker vir 'n Ontdekker


Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                                 Het Mamma se hulp nodig!

Mamma se geduld vlak: Baie laag

Koste: R0 (Julle sal alles in die huis vind)
 
Wintervakansie is vir baie gesinne sinoniem met 'n kuier in die wildtuin, daarom maak ons hierdie week 'n belangrike item vir so 'n kuier:
'n verkyker!

Fyn motoriese vaardighede word deur hierdie aktiwiteit ontwikkel en ons het ook die geleentheid gebruik om kleure en kleur skakerings vas te lê. Ons het 'n verkyker in skakerings van groen gemaak, maar gee jou kleuter se verbeeling teuels ten opsigte van die kleure en teksture wat julle gaan gebruik.
 
Hou asseblief toesig wanneer jou kleuter 'n skêr gebruik, al het s/hy reeds die knip tegniek bemeester!

Benodighede

 
Leë toiletrol houers; skêr, gom, ou tydskrif, ou veter of stukkie wol, rekkie (opsioneel).

Metode

Stap 1
Kies 'n kleur skema en skeur bladsye uit 'n ou tydskrif wat verskillende skakerings van die gekose kleur bevat. Skeur nou hierdie bladsye in klein stukkies wat as mosaik blokkies sal dien. (Hoe jonger jou kleuter hoe groter die mosaik blokkies vir maklike hantering.) Druk gom op die eerste toiletrol uit en gebruik 'n vinger om die gom egalig oor die hele oppervlak te versprei.
 

Stap 2:
Gebruik die mosaik blokkies om die toiletrol te bedek. (Ons het die papiertjies in 'n houer gegooi, dit het dit makliker vir my kleuter gemaak om 'n stukkie raak te vat en te plak.) Moenie bekommerd wees indien die geplakte blokkies nie glad is nie.
 

Stap 3:
Druk 'n bietjie gom op die klaar geplakte rolletjie uit en gebruik 'n vinger om dit oor die bedekte rolletjie te smeer. Die gom sal al die uitstaan papiertjies glad maak en plak en versterk die struktuur effens. (Die gom is deurskynend as dit droog is.) Laat dit droog raak en herhaal stap 2 en 3 om die tweede rolletjie te bedek.
 

Stap 4:
Druk 'n reguit strepie gom op elke droë rolletjie en druk dit vas aan mekaar om te heg.

 
Stap 5:
Gebruik 'n skêr om 'n gaatjie aan die bokant van elke rolletjie te maak. Druk die ou veter of stukkie wol deur die gaatjie en maak 'n knoop aan die binnekant.
 
 
Stap 6:
Herhaal die proses met die ander rolletjie. My kleuter was effens ongeduldig om sy verkyker te gebruik en kon nie wag vir die hegtingsgom om droog te raak nie, so ons het 'n rekkie omgedraai sodat die verkyker gebruik kan word terwyl die gom droog raak!



Jou kleuter sal baie lekker op sy eie met sy verkyker speel, maar jy kan ook speelgoeddiertjies wegsteek en hom dit laat soek.
Wie weet, dalk sien julle 'n leeu!
 
Hoop julle geniet die aktiwiteit net soveel soos ons!