Donderdag 29 Augustus 2013

Grillerige Groen Tower Slym

Ouderdom: 2 - 9                                                                                               Het Mamma se hulp nodig met afmeet
Mamma se geduld vlak: Laag
Koste: R0 (Jy sal alles in jou koskas kry)

Vandag maak ons grillerige tower slym. Die konkoksie het die eienskappe van 'n vloeistof as dit op sy eie is, maar sodra jy effense druk daarop toepas, word dit 'n soliede massa! Dit beteken dat jy die slym kan optel en in 'n bal druk, maar die oomblik as jy jou hand oopmaak, sal dit begin "smelt" en van jou hand en vingers afloop soos water.

Jou kleuter kan dit op sy/haar eie maak en ek belowe dat dit oud en jonk sal betower. Ek het in alle eerlikheid net so lekker soos my kleuter gespeel. Wat 'n voorreg!

Hoop julle geniet die maak, ontdek en speel net soveel soos ons.  

Benodighede


Twee en 'n half koppies mielieblom (Maizena)
'n Half koppie water
'n Paar druppels voedselkleursel

Metode

Stap 1: Voeg al die bestandele in 'n mengbak. (My kleuter het van die kans gebruik gemaak om aan alles te proe.)

Stap 2: Gebruik jou hande om die mengsel goed te meng. Wanneer die mengsel in stukke uitgetel kan word en dan weer van jou hande afloop sodra jy jou hande oopmaak is dit reg. Indien te styf of te waterig, gooi bietjie water of mielieblom by totdat jy die verlengde konstitusie verkry.
 
Stap 3: Gooi die mengsel in 'n beskuit bakplaat, skinkbord of groot plastiek bak en speel!

Wees gewaarsku! Ek was slim genoeg om die aktiwiteit binnehuis met my twee en 'n half jarige kleuter te doen. Dit was baie morsig! Veral omdat hy dit vreeslik geniet het om sy hande af te skud en te kyk hoe die slym vlieg en van ander opvervlakke afloop. Ons het die bak buitentoe gedra en hy het dadelik begin "boer". Die feit dat die karretjies nie spore maak nie, maar wel in die slym insink na 'n tydjie was 'n bron van groot fasinasie!

My gunsteling eienskap van die slym? My kleuter kon die bak self met die tuinslang was! (En gewone water verwyder alle ander wilde speel bewysstukke maklik.)

Geniet kreatief speel met jou kleuter! 

Stuur gerus ons skakel na jou vriende of hou van ons op Facebook!

Donderdag 22 Augustus 2013

Bad Jellie Borrelbad

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                       Het Mamma se hulp nodig!
Mamma se geduld vlak: Vreeslik Laag
 
Koste: R0 - R30 ('n Boksie Gelatien kos ongeveer R29)

Hierdie week het ons probeer om Bad Jellie te maak. Dit is vreeslik maklik om te maak, maar ons was nie baie suksesvol daarmee nie.Twee pogings later en die badwater wou steeds nie stol nie. 

Na verdere ondersoek het ek agtergekom dat die bad jellie resep wat ons volg bedoel is om borrelbad te maak en nie 'n gestolde bad nie! (En dat al ons pogings eintlik suksesvol was...)

Die borrelbad bad jellie hou lank in die yskas en jy kan elke aand 'n lepel of twee uitskep en onder lopende badwatwer hou vir 'n betowerende bad belewenis. Dit is ook 'n lekker geskenk idee!

My kleuter het dit gate uit geniet om in 'n groen en ligteblou skuimbad te bad en te speel. (En in alle eerlikheid het die grootmense dit ook prettig gevind!)

Hoop julle geniet die maak en speel net soveel soos ons.

Benodighede


 3/4 koppie kokende water
1 eetlepel Gelatien
1 eetlepel Sout
1/2 koppie vloeiseep of babasjampoe
paar druppels Voedselkleursel

Metode

Stap 1: Gooi die kookwater in 'n mengbak en voeg die Gelatien by. Roer tot opgelos.

Stap 2: Voeg die vloeiseep of babasjampoe by. Maak seker dat jy stadig roer, anders skuim dit vreeslik! (My kleuter het nog nie die kuns om stadig te roer bemeester nie, so ons eerste poging het vreeslik geskuim.)
 
Stap 3: Voeg 'n paar druppels voedselkleursel by en roer stadig tot gemeng.

Stap 4: Voeg die sout by en meng goed. Die mengsel behoort al stadig te begin stol.

Stap 5: Gooi die mengsel in 'n houer met 'n lugdigte deksel en sit in die yskas om te stol. Skep teelepels vol uit vir gebruik.


Geniet jou kreatiewe kleuter!

Vind en hou van ons op Facebook of teken in om die blogs weekliks per e-pos te ontvang.

Vrydag 16 Augustus 2013

Klipsop!



Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                       Het Mamma se hulp nodig!
Mamma se geduld vlak: Baie Laag

Koste: R0 - R30 (Afhangende van watter groente in jou yskas is en wat jy sal moet aankoop!)

Vandag maak ons klipsop!

Klipsop is nie net 'n lekker les in mededeelsaamheid nie, maar dien ook as 'n luister en onthou oefening, kos lessie en (afhangend van wat jy in die klipsop gooi) gee dit jou kleuter ten minste vyf van sy daaglikse groente porsies!

Aan die einde van die inskrywing sluit ek 'n weergawe van die storie in volkleur in, asook swart en wit velle wat groter kleuters kan inkleur.

My kleuter het dit baie geniet om die prentjies in te kleur, die storie te lees, die sop te maak en om dit te eet. Dit was sy idee om "rolspel" tydens die kookproses te doen, wat dit maklik gemaak het om sy luister en retensie vaardighede te meet, want as "boemelaar" moes hy alles onthou wat in die sop kom!

'n Ekstra bonus vir Mamma's met lekkerbekkige kleuters is dat kinders geneig is om te eet wat hulle self maak!

Ek hoop julle geniet dit net soveel soos ons om klipsop te lees, te maak en te eet!

Let asseblief daarop dat die tweede helfte van die aktiwiteit die stoof insluit en dat Mamma ten alle tye moet toesig hou.


Benodighede

Die storie van Klipsop; Inkleurvelle (opsioneel); 'n skoongewaste klip; sopgroente en vleis; 'n pot met kookwater, sout en 'n houtlepel. (Indien jy skrikkerig is vir om rape by te voeg: 'n gaar raap proe iewers tussen 'n aartappel en 'n ui, dit sal dus nie 'n vreemde geur aan die sop gee wat jou kleuter sal afstoot nie.)

Metode

Stap 1: Druk die storie van Klipsop uit en lees dit voor aan jou kleuter. (Indien jy gelukkig genoeg is om die storie in boekvorm te besit, lees dit gerus en spaar jou ink!) Indien jou kleuter oud genoeg is kan julle die swart en wit inkleurprente uitdruk en inkleur. Jy kan jou kleuter vra om die storie oor te vertel terwyl hy inkleur, jy kan op hierdie speelse manier sy begrip, luistervaardighede en retensie toets.

Stap 2: Gaan soek 'n klip om klipsop mee te maak en was dit goed af. Sit 'n groot genoeg pot op die stoof en gooi kookwater in. (Ek doen dit op hierdie manier aangesien die water kook in die storie voordat die boemelaar sy klip ingooi! Die water is dus stomend, maar omdat die plaat af is en die koue groente vinnig bygevoeg word, raak die pot nooit warm nie en die gevaar vir brand word verminder.) "Gooi" die sopklip (ons het 'n gaatjieslepel gebruik om die klip in te sit) in en roer goed! Skep 'n bietjie water, proe en besluit om sout by te gooi...

Stap 3: Roer die klipsop en proe daaraan en gooi die volgende bestandeel by! Gooi die bestandele een-een by (ek sny alles voor die tyd op en sit dit in bakkies om dit makliker vir my kleuter te maak om te identifiseer en te hanteer). Onthou om na elke nuwe bestandeel te roer en te proe!

Stap 4: Nadat al die bestandele bygevoeg is (en jy kan jou eie opmaak na gelang van jou sak en koskas soos wat jy die storie vertel. Jy kan bv. gort of tamaties byvoeg), gee die klipsop 'n finale roer/proe en stel 'n wekker of horlosie vir 'n uur en 'n half. Sit die plaat aan en laat die klipsop kook en prut todat dit gaar is. Jy kan jou boemelaar met intervalle laat proe aan die klipsop om te sien of dit al "reg" is! Jy kan ook die sop 'n bietjie fyner druk vir kleiner kleuters om dit makliker te maak om te eet.

Wanneer die sop gaar is, bedien en vier fees!

Geniet kreatief wees saam met jou kleuter!

Soek en hou van ons op facebook!

Storievelle in kleur:





























Inkleurvelle:






















Vrydag 09 Augustus 2013

Maak 'n Reenstok

Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                       Het Mamma se hulp nodig!
Mamma se geduld vlak: Laag
Koste: R0 (Alles behoort in jou koskas en huis te wees)

Vandag maak ons 'n eenvoudige reenstok van 'n lee kombuishandoekrolletjie, spelde, papier kleeflint en 'n bietjie rys.
 
Mamma sal jonger kleuters baie moet help om die reenstok klaar te maak, maar daarna sal jonk en oud op hul eie kreatief kan speel. Mamma sal ouer kleuters dalk moet help om die spelde in te steek. Julle kan drukspykers ook gebruik, maar die effek sal nie heeltemal dieselfde wees nie. Jy en jou kleuter(s) kan ook eksperimenteer daarmee om stokke met verskillende toevoegings te maak, bv. rys, gedroogte boontjies, gedroogte ertjies, gedroogte gort ens. Alles sal 'n verskillende klank gee. Langer en korter reenstokke sal ook verskillende klank effekte gee.
 
My kleuter gebruik syne as 'n musiek instrument en dans daarmee, hoop jou kleuter(s) het net soveel pret!
 
Benodighede
 
'n Lee kombuishandoekrolletjie (Indien jy nie het nie, kan jy twee of drie lee toiletrolletjies aan mekaar vasplak met kleeflint); bree kleeflint, spelde, rys, viltpen, sker, papier (Ons het gekleurde papier gebruik, maar jou kleuter kan self 'n vel wit papier versier).
 
Metode
 
Stap 1: Gebruik die viltpen om 'n spiraal vorm om die rolletjie te trek. Druk nou spelde al op die lyn in.
 
Stap 2: Voltooi die spiraal met die spelde. Ek het die spelde vir my kleuter klein bietjie ingedruk en hy het dit met sy hout hamer verder ingekap. Die laaste bietjie is dan met die vinger ingedruk. Hy het hom gate uit geniet.
 
Stap 3: Trek die buitelyne van die rolletjie af op dubbelgevoude papier en knip uit. Gebruik een papier sirkel om die een kant van die rolletjie toe te plak.
 
Stap 4: Ons het kleeflint gebruik om seker te maak dat die sirkel goed vas is. Gooi nou die rys versigtig in die opening en plak dit op dieselfde manier toe. Maak seker dat die sirkels goed vas is, ander sal die rys uitval!
 
Stap 5: Plaas die toegeplakte rol op die papier wat jy gaan gebruik om dit mee oor te trek en rol dit styf vas. Gebruik kleeflint om die papier op die naat vas te plak. As jy die kleeflint 'n bietjie langer afknip, kan jy die onderkant van die reenstok verder verstewig deur dit daaroor te plak.
Jou kleuter se reenstok is klaar!
 
 
Maak reen of musiek en geniet die kreatiewe tyd met jou kleuter!
 
 

Donderdag 01 Augustus 2013

Speel met Klei


Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                                       Het Mamma se hulp nodig!
Mamma se geduld vlak: Baie Laag
Koste: R0 (Alles behoort in jou koskas te wees)

Vandag maak en speel ons met ‘n ou staatmaker, speeldeeg! Soutklei is vreeslik maklik om te maak, die tekstuur is lekker, dit is nie so hard soos gekoopte klei nie en dit is goedkoop. Dit is boonop 'n aktiwiteit wat jonk en oud ure se vermaak verskaf en is voordelig vir onder andere fyn motoriese ontwikkeling.

My kleuter het dit vreeslik geniet om die bestandele in te gooi en te meng en ons kon sommer oor kleure en kleur kombinasies terselfdertyd leer.

Ek het sluit die oorspronklike, sowel as ‘n gehalveerde resep in. As jy meer as een kleuter het kan elkeen sy eie maak. Dit is ook vir my kleuter makliker om die voedselkleursel in te meng met kleiner hoeveelhede klei.

Let asseblief daarop dat die deeg vining op die stoof gekook word, so Mamma moet toesig hou.

Lekker speel!
 

Resep


Halwe Resep                                                                        Hele Resep

1 koppie meel                                                                       2 koppies meel
½ koppie sout                                                                      1 koppie sout
1 koppie water                                                                      2 koppies water
½ pakkie kremetart (of 10 ml)                                                1 pakkie kremetart (of 20 ml)
7.5 ml Olie                                                                           15 ml Olie
Voedselkleursel                                                                    Voedselkleursel


Metode

Stap 1: Gooi al die bestandele saam in ‘n pot en roer goed. Indien jy slegs een kleur klei maak, kan jy die voedselkleursel ook saam ingooi.

Stap 2: Roer die mengsel aanhoudend oor matige hitte. Moenie bekommerd wees as die mengsel klonterig aan die begin lyk nie, dit word later glad. Terwyl jy aanhou roer, sal die mengsel al hoe dikker word totdat dit van die kante af loskom en ‘n bal in die middel vorm.

Stap 3: Indien jy meer as een kleur klei wil maak, deel jou deeg in die verlangde hoeveelhede en roer die voedselkleursel by elke hoeveelheid in. Moenie bekommerd wees as jy die kleur nie egaliger as ‘n marmer kleur kry terwyl jy roer nie, sodra jy begin knie sal die kleur egalig in knie.

Stap 4: Haal die bal deeg uit en knie dit vir ‘n paar minute totdat die tekstuur vir jou reg voel en lyk. Indien jou klei te klam is (dit sal aan jou vingers vas sit en taai wees) knie meel by totdat die tekstuur reg is. Indien jou klei te droog is (dit sal sukkel om ‘n bal te vorm), voeg ‘n paar druppels water by. 

Sodra jy tevrede met die tekstuur is, is die klei speel gereed! Jy kan jou kleuter daarmee vry laat speel, maar jy kan ook 'n paar koekiedrukkers en vormies uitpak vir ekstra lekkerte.

Geniet kreatiewe speeltyd met jou kleuter!

Vind en hou van ons op Facebook. Julle is ook welkom om opmerkings en foto's in te stuur.