Vrydag 31 Mei 2013

Vrolike Feetjies en Heldhaftige Helde!

Ouderdom: 2 - 9 jaar                                                                                                                              Het Mamma se hulp nodig

Mamma se geduld vlak: Baie laag

Koste: Jy kan al die items met oorskiet stukkies lap maak. Indien jy dit sal moet aankoop sal die totale koste onder R20 per item beloop. 

Beide die feetjie rompie en mantel het naaldwerklose en basiese naaldwerk variasies. Kleuters van vier jaar en ouer sal die naaldwerklose weergawes heeltemal op hul eie kan baasraak, terwyl Mamma sal moet toesig hou met die naadwerk weergawes aangesien dit  rygstekies met 'n groot naald vereis. Vir kleuters tussen drie en vier sal Mamma handjie moet bysit en vir twee tot drie jariges sal Mamma meeste van die werk self moet doen!

Naaldwerk is ‘n goeie manier om die fyn motoriese vaardighede van jou ouer kleuter, voorskoolse leerder of skoolbeginner te ontwikkel en oefen ook van die spiere wat nodig is vir skryf.

Al die artikels neem tussen twingtig en dertig minute om klaar te maak, so jou kleuter sal vinnig kan begin om kreatief daarmee te speel. Jong kleuters wat nog nie so vaardig met aantrek is nie en wat ook nog te klein is vir kamma-kamma speel met kostuums, sal die beweging wat die rompie en mantel maak terwyl hulle dans, hardloop of spring baie geniet. Hulle geniet dit ook om die teksture van die rompie en mantel te bevoel.

Naaldwerklose Romp vir Vrolike Feetjies!

 

Benodighede

‘n Lint of dun materiaal strook wat lank genoeg is om met ‘n strik om jou kleuter se middel te kom. Organza of enige sagte materiaal in die kleur/kleure van jou keuse. (Die kleur sal bepalend wees t.o.v. kreatiewe speel, swart sal byvoorbeeld vir ‘n heks geskik wees en helder kleure vir ‘n feetjie, ensovoorts). Skêr. Organza kos ongeveer R16 per meter en ons het ‘n driekwart meter gebruik.


Stap 1

Besluit hoe lank die rompie moet wees en meet en sny stroke materiaal wat dubbel die verlangde lengte is. (M.a.w. die stroke moet die regte lengte wees wanneer dit dubbel gevou is.)

Stap 2

Meet en knip ‘n stuk lint wat lank genoeg is om met ‘n strik om die middel te pas. Besluit op die volgorde van die kleure indien meer as een kleur gebruik word.

Stap 3

 

Maak ‘n lus met ‘n strook materiaal en vou dit dubbel oor die lint sodat die lus aan een kant van die lint en die ente aan die ander kant van die lint is. Steek die ente van die strook deur die lus om ‘n knoop te vorm.

Stap 4


Trek styf deur die ente styf te trek terwyl jy die lint vashou. Die lengte van die strook behoort nou die verlangde lengte van die romp te wees. Begin in die middel van die lint en werk kante toe om te verseker dat die stroke eweredig verspreid is. Vat nou die volgende strook en herhaal Stap 3 en 4.

Stap 5

Herhaal Stap 3 en 4 met al die stroke totdat al die stroke gebruik is. Maak seker dat die stroke eweredig verspreid is,  ‘n vinger breedte uit mekaar werk lekker. Wanneer die romp klaar is, bind dit om jou middel en begin speel!

Feestelike Feetjie Romp met Naaldwerk

Benodighede

‘n Lint of dun materiaal strook wat lank genoeg is om met ‘n strik om jou kleuter se middel te kom. Net of Tulle materiaal in die kleur/kleure van jou keuse. (Die kleur sal bepalend wees t.o.v. kreatiewe speel, swart sal byvoorbeeld vir ‘n heks geskik wees en sagte kleure vir ‘n feetjie, ensovoorts). Skêr. Naald en Gare. Die Tulle kos ongeveer R19 per meter en ons het ‘n halwe meter gebruik.

 Stap 1

Meet die lengte van die romp, hierdie afmeting gaan die breedte van die strook materiaal wat jy uitknip wees. Die lengte van die strook materiaal wat jy gaan uitknip gaan bepaal hoeveel plooitjies dit gaan maak. Dit is ‘n goeie gids om ten minste twee en ‘n half keer die omtrek van die middel te neem. Knip nou twee stroke materiaal uit verskillende kleure uit. 

Meet en knip ‘n stuk gare die lengte van die materiaal af. Soek die grootste naald wat jy kan kry (dis makliker vir klein handjies om vas te hou) en steek die gare deur die oog. Maak ‘n groot knoop aan die punt van die gare.

Stap 2

Gebruik groot rygsteke om die boonste kant van die eerste strook materiaal in te ryg. Wanneer jy die gare stywer trek, sal jy die romp se plooitjies maak. Meet die strook materiaal om jou middel om te weet hoe ver die romp ingetrek moet word. Die punte van die materiaal moet aanmekaar kan raak. Doen dieselfde met die tweede strook materiaal.

Stap 3

Meet en knip ‘n lint lank genoeg om met ‘n strik om die middel te kom. Vou die lint in die helfte om die middelpunt te kry en merk dit met 'n speld. Vou die eerste strook materiaal ook in die helfte en plaas die twee middelpunte op mekaar. Maak seker dat jy die strook materiaal op die onderste helfte van die lint plaas. Speld die ingetrekte materiaal strook nou aan die lint vas en werk dit met klein rygstekies vas. Maak 'n stewige knoop met die gare wanneer jy klaar is om te keer dat dit stekies uittrek.

Stap 4

Trek die ryggare uit. Herhaal Stap 3 en die begin van Stap 4 met die volgende stuk ingetrekte materiaal, maar werk dit aan die boonste helfte van die lint vas. Jou rompie is nou klaar en kan op twee maniere gebruik word afhangende van wat jy verkies. Jy kan die rompie net so om jou lyf bind, of die lint omdraai en “onderstebo” aan jou lyf vasbind om ‘n voller romp te verkry. Jy's reg om almal om jou te betower!

Naaldwerklose Mantel vir Heldhaftige Manne

 Benodighede

‘n Lint of dun materiaal strook wat lank genoeg is om met ‘n strik om jou kleuter se nek te kom. Sagte, ligte materiaal in die kleur/kleure van jou keuse. (As die materiaal te swaar is sal dit ongemaklik om die nek trek.) Skêr. Ons het oorskiet stukke voering materiaal gebruik. Voering materiaal kos tussen R7 en R20  per meter. Ek skat ons het minder as ‘n halwe meter gebruik.



Stap 1
Meet en knip ‘n strook materiaal wat twee keer so breed soos jou kleuter se skouers is. Plaas die geknipte strook materiaal op jou kleuter se skouers en maak ‘n knoop in die helfte van elke skouer area. Die lengte tussen die twee knope is die deel waar die mantel vasgemaak gaan word.


Stap 2

Meet hoe lank die mantel moet wees en knip stroke materiaal in die verlangde lengte. Ons het oorskiet stukke materiaal gebruik en geen een was presies dieselfde lengte of breedte nie en dit het lekker gewerk. Besluit die volgorde van die kleure indien meer as een kleur gebruik word en begin om die stroke lap een-een aan die nekband vas te bind. Wanneer jy klaar is, spasieer die stroke eweredig, bind om jou nek en red die wêreld!

Mantel met Naaldwerk vir Brawe Helde (en Honde)


Benodighede
Sagte, ligte materiaal in twee kontrasterende kleure van jou keuse. (As die materiaal te swaar is sal dit ongemaklik om die nek trek.) Skêr. Naald en Gare. Ons het oorskiet stukke voering materiaal gebruik. Voering materiaal kos tussen R7 en R20  per meter. Ek skat ons het minder as ‘n kwart meter gebruik.

Stap 1
Vou ‘n stuk materiaal dubbel, sit die vou in die helfte van jou kleuter se rug en meet  en merk sy skouer breedte sowel as die verlengde lengte van die mantel. Knip nou ‘n “u” vorm uit wat effens breër aan die bokant is volgens die mates.
 

Stap 2 
Knip dun stroke materiaal in ‘n kontrasterende kleur uit. Speld die stroke op die randte van die mantel vas. Maak voue in die stroke op die rondings en maak seker dat die voue ook vasgespeld word.

Stap 3
Meet en knip ‘n stuk gare die lengte van die materiaal af. Soek die grootste naald wat jy kan kry (dis makliker vir klein handjies om vas te hou) en steek die gare deur die oog. Maak ‘n groot knoop aan die punt van die gare. Ryg die strook met rygsteke vas. Maak seker dat jy elke vou styf en noukeurig vasryg. Maak ‘n stywe knoop wanneer jy klaar is.

Stap 4
Speld ‘n strook aan die bokant van die mantel vas en maak seker dat daar genoeg materiaal aan elke kant verbysteek sodat dit in ‘n strik om die nek vasgemaak kan word. Volg die aanwysings in Stap 3 om die strook vas te werk. Siedaar, jy’s klaar!
 


Geniet dit om die wêreld te red! Geniet kreatief speel saam met jou kleuter!

Vrydag 24 Mei 2013

Bak en Brou!


Ouderdom: 2 - 9 jaar                                                                                                                              Het Mamma se hulp nodig

Mamma se geduld vlak: Baie laag

Koste: Jy behoort alles vir die versiersuiker in jou huis te hê. Die lekkers en koekies het ongeveer R25 gekos.


Ons versier vandag koekies op 'n maklike en morsige manier! Ons het Marie beskuitjies gebruik, maar jy kan enige beskuitjies, bv. Tennis beskuitjies, gebruik. Ek sukkel vreeslik met botter versiersel, so ek gee 'n flatervrye botterversiersel resep aan die einde van die inskrywing, met foto's!

Dit is 'n lekker idee om jou kleuters, voorskoolse kinders of skoolbeginners besig te hou op koue, winderige of reendae, maar sal ook lekker werk vir kinderpartytjies. Ek het die resep vir botterversiersel aangepas om dit minder te maak, maar vries gerus dit wat oorbly en gebruik dit volgende keer om die kolwyntjies te versier!

Ons hele gesin het die koekies sommer een aand na ete as poeding versier as 'n lekker gesinsaktiwiteit. Dit was baie lekker, baie taai en baie soet! (En Pappa was loshande die kreatiefste!)


 Versier ou dier!

Vir kleiner kleuters sal jy moet stadig en stap vir stap verduidelik, maar ouer kleuters sal dit geniet om jou eindproduk te probeer na-aap en dan hul eie verbeeldings te volg. 

Jy kan die koekies op enige manier versier, maar ons het op 'n paar tema's besluit en daarvolgens versier.

Benodighede

Botterversiel in die kleure van jou keuse.
Plat koekies of beskuitjies om te versier. Ons het Marie Beskuitjies gebruik.
Soetgoed om mee te versier. Ons het Smarties, Jellybeans en malvalekkers gebruik.
  

Alle versiersels

Stap 1: Smeer jou koekie vol versiersuiker. 
Stap 2: Versier na smaak. 
Stap 3: Eet!

Malvalekker blom

Stap 1: Smeer jou koekie vol versiersuiker. 
Stap 2: Gebruik ‘n skêr om ‘n malvalekker in vier te knip. 
Stap 3: Pak die geknipte malvalekker stukkies in ‘n blom vorm op die gesmeerde koekie. 
Stap 4: Smeer ‘n Smartie met versiersuiker en plak dit in die middel van die blom. 
Stap 5: Eet!

Nog versiersels!

Blomme

Bome

Mannetjies

Spinnekoppe
 

Botterversiersel

Moenie vra hoekom nie, maar almal kan rys kook en botterversiersel maak, behalwe ek! My ma het my uitgehelp met hierdie flatervrye resep en die volgende raad gegee: Maak seker jou botter is sag genoeg. As jou botter te hard is gaan dit nooit werk nie! EN Indien jy op  'n koue plek bly, sal jou versielsel harder wees, net soos die versiersel sagter in die somer as in die winter is. Maak jou melk dus 'n klein bietjie warm vir sagte, smeerbare versiersel! Dankie Ma!

Benodighede

125g sagte botter (kwart van ‘n pak)
250g versiersuiker (halwe klein pakkie)
15ml melk (eetlepel)
Doppie vanilla essence
Voedselkleursel van jou keuse

Metode

Stap 1: Weeg 125g botter af op ‘n kombuis skaal of sny ‘n kwart van ‘n pak botter af. Jy kan kunsbotter ook gebruik indien jy verkies.

 

Stap 2: Verroom die botter met ‘n klitser. Maak seker dat jou botter sag genoeg is, anders sal jou versiersel hard en moeilik bly!


Stap 3: Voeg die versiersuiker lepel vir lepel by terwyl jy aanhou klits. Wanneer jy al die versiersuiker bygevoeg het, gooi die vanilla essence by en klits goed. Kyk nou mooi na tekstuur van jou versiersel. (M.a.w. gebruik ‘n mes en kyk of dit kan maklik smeer!) Indien jou versiersel te hard is, gooi ‘n klein bietjie melk, so teelepel op ‘n slag, by terwyl jy aanhou klits totdat die versiersel smeerbaar is. Indien die versiersel te loperig is, gooi versiersuiker bietjie vir bietjie by terwyl jy klits totdat die versiersel maklik smeerbaar is.


Stap 4: Verdeel die versiersuiker in die hoeveelheid kleure wat jy wil hê en voeg die voedselkleursel ‘n druppel op ‘n slag by. Meng goed. Indien jy die kleur donkerder wil hê, gooi die voedselkleursel drupsgewys by totdat jy tevrede is. Gebruik die versiersel!

Ek hoop julle het net soveel pret as wat ons gehad het! Geniet kreatief wees saam met jou kleuter.


Vrydag 17 Mei 2013

Toiletrol Diere


Ouderdom: 2 - 9                                                                                                                               Het Mamma se hulp nodig

Mamma se geduld vlak: Laag 

Koste: R0 (Jy sal alles in jou huis hê)

Ons maak vandag 'n verskeidenheid diere uit leë toiletrolle! Kies 'n dier wat vir jou kleuter se vaardigheidsvlak geskik is, of maak sommer almal. Aan die einde wys ons ook vir jou 'n slim manier om jou kleuter se verjaardag tafel op te vrolik met 'n toiletrol hasie en/of kat.

Let asseblief daarop dat al die aktiwiteite knipwerk insluit en dat Mamma 'n ogie moet hou!   

Benodighede


Vir al die diere: Leë toiletrolle; skêr; gom; inkleurpotlode of verf of viltpenne. Ogies is opsioneel.
Skapie: Watte en 'n eierdosie houertjie.
Verjaardag hasie: Gekleurde papier.
Krokkedil: Twee toiletrolle, breë deurskynende kleeflint.

Woefie die Hond

1. Trek 'n reghoek wat effens groter is as die toiletrolletjie op 'n vel wit papier. Die reghoek moet effens langer wees sodat die randte netjies 
     oor mekaar pas wanneer jy dit plak. Teken 'n hondjie gesiggie en vier pote.
2.  Kleur dit in met vetkryf of viltpenne. Jy kan verf ook gebruik om dit te versier.
3.  Knip die reghoek, gesig en pootjies uit.
4.  Smeer die agterkant van die reghoek gom. Gebruik jou vinger om die gom lekker glad te vee. Maak seker dat daar gom in al die hoeke 
     sowel as op al die randte is.
5.  Sit jou toiletrol in die middel van die gegomde papier.


6.  Jy hoef net die toiletrol te rol en die reghoek sal vanself aan die karton vas plak. Vee die randte lekker glad met jou vinger.
7.  Smeer lekker dik gom aan die een kant van die oorgetrekte toiletrol.
8.  Plak die kop daarop vas. Druk lekker hard sodat dit stewig sit.
9.  Smeer die agterkant van die pote gom.
10.  Plak die pote vas aan weerskante van die lyf en siedaar! Jou hondjie is klaar.


    

Krokkedil met krakende kakebene

 
Die krokkedil kan op twee maniere gemaak word afhangende van jou kleuter se ouderdom. Aanwysings vir beide maniere word in elke stap weergee.

1.  Jonger kleuters (twee tot vier jaar) kan blokke effens groter as die grootte van die toiletrolletjie inkleur of verf. Ouer kleuters (vier jaar en op) kan
      'n vel A4 papier inkleur of verf en dan in kleiner stukkies skeur of knip.  
2.  Teken en knip twee rye tande uit wit papier.  
3.  Jonger kleuters: Knip die reghoeke uit wat jy versier het en smeer een vol gom. Maak seker dat jy met jou vinger die gom lekker glad smeer 
     en dat daar gom in al die hoekies en randte is. Sit een van die toiletrolle in die middel van die gegomde reghoek. Rol die toiletrol na een kant 
     toe en jy sal sien dat die toiletrol self die gegomde papier optel. Druk die rand styf vas.
    Ouer kleuters: Beweeg aan na die volgende stap. 
4.  Ouer Kleuters: Gebruik 'n skêr om in een van die toiletrolle twee driehoeke te knip. Die driehoeke vorm die mond van die krokkedil. Gebruik
     die tande om te meet hoe lank die sye van die driehoek moet wees.
     Jonger Kleuters: Gebruik 'n skêr om in die oorgetrekte toiletrol twee driehoeke te knip. Die driehoeke vorm die mond van die krokkedil. 
     Gebruik die tande om te meet hoe lank die sye van die driehoek moet wees. 
5.  Smeer gom aan die boonste sye van die inknipsel en plak die tande vas.
6.  Ouer Kleuters: Smeer nou die gedeelte tussen die tande vol gom en plak die stukkies papier wat jy eers versier en toe geskeur of geverf het 
     op die toiletrol. Wanneer jy klaar is met die kop, kan jy die helfte van die ander toiletrol vol gom smeer en begin om dit ook met die 
     klein stukkies papier oor te trek. Sodra jy een helfte voltooi het, draai die toiletrolletjie om en voltooi die ander helfte.
     Jonger Kleuters: Smeer gom op die tweede versierde reghoek en trek die ander toiletrolletjie oor op dieselfde manier as wat in 
     Stap 4 verduidelik word.
7.  Plak die kop en lyf aan mekaar vas met breë deurskynende kleeflint.
8.  Teken of plak twee ogies aan weerskante van die krokkedil se kop.
9.  Kleur 'n "u"-vorm rooi in, knip dit uit en plak dit aan die onderkant van die krokkedil se mond vas.
10. Knip vir die krokkedil 'n stert uit en plak dit vas aan sy stertkant. Siedaar!

Hasie in die holte

1. Trek 'n reghoek wat effens groter is as die toiletrolletjie op 'n vel wit papier. Die reghoek moet effens langer wees sodat die randte netjies 
     oor mekaar pas wanneer jy dit plak. Teken twee haas oortjies.
2.  Kleur dit in met vetkryf of viltpenne. Jy kan verf ook gebruik om dit te versier.
3.  Knip die reghoek en ore uit.
4.  Smeer die agterkant van die reghoek gom. Gebruik jou vinger om die gom lekker glad te vee. Maak seker dat daar gom in al die hoeke 
     sowel as op al die randte is.
5.  Sit jou toiletrol in die middel van die gegomde papier.

6.  Jy hoef net die toiletrol te rol en die reghoek sal vanself aan die karton vas plak. Vee die randte lekker glad met jou vinger.
7.  Smeer gom aan die onderkant van die haas ore.
8.  Plak die ore aan die binnekant van die toiletrol vas. Druk dit lekker styf vas sodat dit stewig kan sit.
9.  Teken of plak twee ogies onder die ore.
10. Teken 'n neus en 'n mond en jou hasie is klaar. Die voltooide hasie is 'n lekker houer vir lekkernye of potlode!    

Die Kat kom weer

1. Trek 'n reghoek wat effens groter is as die toiletrolletjie op 'n vel wit papier. Die reghoek moet effens langer wees sodat die randte netjies 
     oor mekaar pas wanneer jy dit plak. Teken 'n kat gesiggie.
2.  Verf die gesiggie en reghoek. Jy kan dit ook inkleur met vetkryte of viltpenne as jy wil.
3.  Knip die reghoek en gesiggie uit.
4.  Smeer die agterkant van die reghoek gom. Gebruik jou vinger om die gom lekker glad te vee. Maak seker dat daar gom in al die hoeke 
     sowel as op al die randte is.
5.  Sit jou toiletrol in die middel van die gegomde papier.
6.  Jy hoef net die toiletrol te rol en die reghoek sal vanself aan die karton vas plak. Vee die randte lekker glad met jou vinger.
7.  Knip aan weerskante van die toilet rol 'n "u" vorm uit. Dit vorm die kat se bene.
8.  Smeer gom aan die bokant van die toiletrol lyfie en plak die kat se kop vas. Druk die koppie lekker styf vas sodat dit stewig sit.
9.  Jy kan 'n stert uit die uitgesnyde gedeeltes knip en aan die agterkant vasplak as jy wil. Jou kat is klaar!  

Skapie Mê

1.  Smeer die een helfte van 'n toiletrolletjie vol gom. Gebruik jou vinger om dit lekker glad te kry.
2.  Pluis stukkies watte los en plak styf langs mekaar vas. (My kleuter is nog baie jonk, so ons watte stukkies is redelik groot.)
3.  Plak die hele gom gedeelte vol watte.
4.  Draai die rolletjie om en smeer die oorblywende gedeelte gom. 
5.  Plak die oorblywende deel ook vol watte.
6.  Wanneer die hele rolletjie bedek is, knip 'n eierhouertjie uit 'n eierdosie.
7.  Druk die eierhouertjie voor in die toiletrolletjie in. Maak seker dat dit stewig sit.
8.  Smeer die houertjie vol gom en en plak watte stukkies daarop vas.
9.  Wanneer die eierhouertjie ook vol watte is, plak of teken twee ogies daarop. Siedaar, jou skaap is klaar!

Verjaardag Hasie

Die hasie word op presies dieselfde manier as die gewone hasie gemaak, maar ek het gekleurde karton gebruik om dit oor te trek. Die ore het ek uit kontrasterende kleure gemaak. Jy kan eksperimenteer met die grote van die oë, ens.

Gebruik die verjaardag partytjie se kleure om die hasie mee oor te trek. Skryf die maatjies se name op, vul met lekkers en sit op die partytjie tafel! Dit sal die hele tafel opvrolik.

Alternatief kan die ander diere, soos bv. die kat ook ingespan word op die partytjie tafel! Eksperimenteer met diere wat by jou tema pas.


Ek hoop jy en jou kleuter(s) het hope pret met die maak en speel van hierdie projek!

Geniet die kreatiewe tyd met jou kleuter.