Donderdag 25 April 2013

Stofsuier, Blaar Blaser en Monster Versapper

Ouderdom: 2 - 8                                                                                                                Het Mamma se hulp nodig

Mamma se geduld vlak: Laag

Koste: R0 (Indien jy alles in die huis het) - R40 (indien jy 'n flitsie en/of batterye en/of riffelkarton koop)

Ons wys vandag die basis vir al drie masjiene sonder baie versierings, jy en jou kleuter(s) kan jul masjiene versier na hartelus. Hoe minder versierings aangebring word, hoe groter is die geleentheid vir kreatiewe speel.

Die stofsuier en blaarblaser is nie geslagspesifiek nie. Enige kleuter sal daarmee speel en die doel van speelding verander soos wat dit hom/haar pas!

Alhoewel alle kleuters met die monster versapper sal speel, is die doel daaragter om kleuters en voorskoolse leerders wat 'n vrees vir die donker en/of monsters en gediertes ontwikkel het, te help om veilig te voel en in hul eie beddens te slaap. Indien hul dink dat hul 'n monster gewaar, kan hul die gedierte met die lig "versap" en die fluitjie blaas om versterkings (Pa en Ma) in te bring!

Benodighede vir al drie masjiene

Stofsuier: Groot sap of aanmaak koeldrank bottel, oorskiet verf, 'n ou sykous, 'n kombuisrol kartonnetjie, ou telefoongids of koerant papier, botteldoppies/interessante knoppies, gom, 'n mes en 'n sker.

Blaar blaser: Twee verskillende groottes plastiek bottels, oorskiet verf, gaffatape of bree kleeflint, houertjie of pyp wat as handvatsel kan dien, stukkie tou, sker.

Monster versapper: Lee blik, riffelkarton of gekleurde papier of versierde wit papier of oorskiet verf, ou sykous, ou telefoongids of koerant papier, fluitjie, flits (Ons het 'n flits teen R19 gekoop wat LED liggies het en hopenlik nie so maklik sal breek as dit val nie), batterye, rekkie, bree kleeflint, sker, mes. (Riffel karton is beskikbaar by meeste supermarkte en kos ongeveer R30 vir 'n pak.)

Stofsuier

  Geskik vir ouderdomme 2 - 5 jaar
Ouer kleuters behoort die grootste gedeelte alleen met slegs toesig te maak. Mamma moet asseblief die mes hanteer om 'n gaatjie te maak.

1. Neem 'n groot plastiek bottel en verwyder alle papier/plastiek omhulsels. Maak seker dat die oppervlak skoon is.
 2. Gebruik enige oorskiet verf om die hele bottel te verf. Die bottel wat ons gebruik het se doppie was 'n mooi helder kleur en ons het dit net so 
    gelos. Ons het slegs een laag verf geverf, indien jy 'n egaliger voorkoms verkies kan jy 'n tweede laag verf sodra die eerste droog is.
 3.  Sny die een been van 'n paar ou sykouse af en frommel bladsye van 'n ou telefoongids op en druk dit een-een binne. Jy kan koerant 
    papier ook gebruik. Stop die kous ongeveer twee derdes op. Moenie die kous te styf opstop nie, die papier is slegs daar om tekstuur 
    en vorm te verleen.
 4.  Maak 'n snytjie in die bottel se doppie en steek die toon gedeelte van die sykous daar deur.  
 
5.  Maak 'n knoop sodat die kous nie weer deur die snytjie kan trek nie en draai die doppie terug op die bottel.
6.  Steek die binneste karton rolletjie van 'n kombuishandoek rol in die kous en trek die kous oor die rol.
7.  Knoop die kous toe en sny oortollige kous af.
8.  Versier met interessante knoppies.

Blaar Blaser

Geskik vir ouderdomme 2 -6 jaar
Ouer kleuters behoort 'n groot gedeelte self te kan maak, met slegs toesig. Mamma moet asseblief met die sker help, veral as dit harde plastiek is.
Ouer kleuters het dit as 'n televisie kamera gebruik!

1.  Verf twee plastiek bottels van verskillende groottes met oorskiet verf. Ons het slegs een laag geverf omdat ons die effek van 'n blaser wat 
     nie meer splinternuut is nie wou na-aap. Vir 'n meer egalige voorkoms kan julle nog 'n laag verf sodra die eerste droog is.
2.  Sodra die verf droog is, knip die boonste gedeelte van die kleinste bottel af sodat dit lekker styf oor die nek gedeelte van die groter bottel pas.
3.  Sny die bodem van die kleinste bottel af. Maak seker dat die rande glad is.
 
4.  Plak dit twee bottels aanmekaar vas met gaffatape of deurskynende kleeflint. Ons het gaffatape gebruik omdat dit by ons kleurskema inpas, 
      maar deurskynende kleeflint sal net so goed werk.
5.  Ons het oorskiet materiaal verf gebruik om 'n bietjie lewe in ons blaser in te blaas en het hier en daar in die groefies geverf.
6.  Verf 'n lee houertjie vir die handvatsel en plak dit die "kant" van die blaser. Ek het probeer om die handvatsel met deurskynende kleeflint 
     en 'n verskydenheid gomme vas te plak, maar die handvatsel het elke keer net vir 'n paar minute se speel gehou voor dit gebreek het.Ten 
     einde laaste het ons 'n kruisie in die bottel gesny en die handvatsel in gedruk en dit het gehou. Gebruik die metode wat die beste werk vir jou.
7.  Bind 'n tou om die agterkant van die groter bottel vir die "belt" wat oor die skouer gedra word. My kleuter en sy pa het ewe lekker gespeel!

Monster Versapper

Geskik vir ouderdomme 4 -8 jaar
Kleuters jonger as 4 sal ook lekker hiermee kan speel, hulle geniet fluitjie blaas en die flits vreeslik!
Ouer kleuters behoort die grootste gedeelte self te kan maak, met slegs toesig. Mamma moet asseblief die mes hanteer om die snytjie te maak.

1.  Gebruik riffelkarton, gekleurde papier, versierde wit papier of oorskiet verf om 'n lee blik mee oor te trek of toe te verf. Ons het riffelkarton 
     gebruik omdat ons dit in die huis gehad het en dit het 'n interessante tekstuur verleen, maar enige alternatief sal ewe goed werk.
2.  Indien jy karton of papier gebruik kan jy dit met gom of deurskynende kleeflint aan die blik vasplak.
3.  Indien jy karton of papier gebruik het, sny enige oorsteek randjies versigtig af.
4.  Sny die een been van 'n paar ou sykouse af en stop dit op met bladsye uit 'n ou telefoongids. Koerant papier sal net so goed werk. Moet die 
     kous nie te styf opstop nie, die papier is slegs om tekstuur en vorm te verleen.
5.  Gebruik 'n mes om 'n snytjie in die deksel te maak.
6.  Druk die toongedeelte van die sykous daardeur en maak 'n dubbel knoop om seker te maak dat die kous nie weer kan uittrek nie. Sit die 
     deksel weer terug op die blik.
7.  Druk die flits in die oop gedeelte van die sykous en draai dit styf met 'n rekkie vas.
8.  Bind 'n fluitjie aan die flits se toutjie vas of aan die flits self.
9.  Versier die versapper na hartelus.    

Geniet die projekte en lekker speel!

Vrydag 19 April 2013

Vinnige Vingerverf, badverf en kunsjurkie


Ouderdom: 2 - 8                                                               
 Het Mamma se hulp nodig met die
                                                                                              maak van die vingerverf. Daarna is
                                                                                              dit elke kleuter vir hom/haarself!

Mamma se geduld vlak: Laag

Koste: R0 (Al die bestandele sal in jou koskas/huis wees!)

Let asseblief daarop goeie gehalte vingerverf vrylik by meeste supermarkte verkrygbaar is teen ongeveer R30 vir vier kleure. (Gewoonlik blou, rooi, geel en groen) Die tuisgemaakte vingerverf is eetbaar, so indien jou kleuter eksperimenteer, hoef jy nie bekommerd te wees nie! 

Al die kunswerke is deur kleuters gemaak waarvan die jongste twee jaar oud is. 'n Bietjie verbeelding is soms nodig om die eindproduk te visualiseer!

Lekker verf!

Resep vir Vingerverf


Die resep is gebaseer op resepte wat vrylik op die internet beskikbaar is en is vreeslik maklik om te maak.

Die tekstuur van tuisgemaakte vingerverf is besonders en jonger kleuters sal veral geniet om daarmee te werk.

Ek het wel gesukkel om my kleure so helder soos gekoopte vingerverf te kry.

Bestandele:
 'n halwe koppie mielieblom (mazeina)
 3 teelepels suiker
'n half teelepel sout
2 koppies koue water
Voedselkleursel van jou keuse.


 Metode:
1.  Gooi al die bestandele behalwe die voedselkleursel saam in 'n pot.
2.  Plaas die pot oor matige hitte en roer vir ongeveer 10 tot 12 minute of totdat die mengsel dik raak. Indien die mengsel te dik raak, gooi net water by en roer tot die verlangde dikte. 
3.  Skep uit in houers en laat afkoel.
4. Wanneer dit afgekoel is, voeg 'n paar druppels voedselkleursel by en vra jou kleuter om dit goed te meng


Maklike Badverf

 

Stap 3

 

Stap 1

Nog makliker as  vingerverf om te maak en dit was maklik af!

Bestandele:
1 teelepel mieleblom (mazeina)
'n paar teelepels baba sjampoe (afhangende van hoe dik jy die verf verkies)
'n paar druppels voedselkleursel (nie te veel nie, anders kan dit dalk vlek)
'n paar lepels water (afhangende van hoe dik jy die verf verkies)
Stap 2

Metode: 

1.  Gooi al die bestandele behalwe die voedselkleursel in 'n  pot. Meng goed.

2.  Gooi die mengsel in houertjies en voeg voedselkleursel by.

3.  Meng goed.



Maklike Kunsjurkie 

Alle kleuters kry somtyds verf en ander dinge op hul klere en hierdie is 'n maklike naaldwerkvrye manier om hul klere te beskerm! 


Al wat jy benodig is 'n ou hemp van Pappa.
  
Sny die moue en kraag versigtig af.


Afhangende van hoe groot jou kleuter is, sny 'n kwart na 'n derde van die onderkant van die hemp af. (Anders is dit te lank.)

Trek die jurkie vir jou kleuter aan met die knopies na agter en gebruik die stuk hemp wat jy afgesny het as 'n belt om die jurkie in die middel vas te trek.

Siedaar! 'n Jurkie wat net oor die kop getrek kan word wanneer jou kleuter klaar kreatief was!


Pret aktiwiteite met vingerverf

Kleuters van alle ouderdomme sal vry verf baie geniet. Jy kan selfs 'n paar kwaste neersit om hul fyn motoriese vaardighede aan te wakker. So 'n verf sessie is ook natuurlik die ideale tyd om kleure te leer en vas te le.

Jy kan enige papier (self koerant papier werk goed) gebruik, maar ek gebruik die agterkant van ou kalenders want die papier is effens sterker.

Hier onder volg 'n paar pret idees, maar daar is soveel meer wat nog gedoen kan word, byvoorbeeld vingerafdruk wurms!

Boom


Geskik vir alle ouderdomme
 
Verf die hand en arm in die verlangde kleur en druk dit op die papier.

Verf nou slegs die hand weer en druk verskeie hand afdrukke oormekaar om takke en blare te skep.

Gesig

  Geskik vir alle ouderdomme

Verf die hand in die verlangde kleur en druk dit op papier.

Gebruik 'n vinger om nog hare tussen die "haar vingers" te trek.

Teken gelaatstrekke in wanneer droog.

Vuur



Geskik vir alle ouderdomme

Verf die hand in die verlangde kleur en druk dit op papier.

Gebruik al jou vingers om vlamme te maak. Gebruik 'n tweede kleur om die vlamme lewe te gee.

Teken stompe in wanneer droog.

Olifante


Geskik vir alle ouderdomme.

Jy kan 'n trop olifante op 'n vel papier maak en dit as geskenk papier vir Ma/Pa/Ouma/Oupa gebruik.

Verf Mamma en Kleuter se hande in die verlangde kleur en druk dit op papier.

Wanneer die hand afrdrukke droog is, teken oe, 'n klossie stert, tande en tone op die olifante!
 

Name

 
Geskik vir kleuters van vyf jaar en op.

 Hierdie aktiwiteit is die ideale manier om vir jou kleuter sy naam te leer skryf of letters vas te le. Jy kan ook die kunswerk gebruik om op sy/haar deur te hang!

Teken die buitelyne van jou kleuter se naam op 'n stuk papier en vra vir hom/haar om dit met 'n kwas te verf. Die res van die papier kan dan versier word met 'n kombinasie van vingerverf en kwashale.



Donderdag 11 April 2013

Grillerige Goggas!


Ouderdom: 2 - 7                                                                                   Het Mamma se hulp nodig


Mamma se geduld vlak: Hang af van ouderdom en moeilikheidsgraad!

Koste: R0 (Jy kan dit maak met goed wat jy in die huis het) - R40 (As jy pypskoonmakers en gompapier koop)

Wat het ons nodig?


Broodnodig: eier boksie, sker en wol of pypskoonmakers.
Opsioneel: verf, gompapier, ogies, viltpenne, vetkryte of potlode vir versiering.
Jy kan enige kombinasie van versierings en bene gebruik.

Ons het eenvoudige goggas gemaak, maar met 'n bietjie verbeelding sal jy enige iets van 'n mier tot 'n verkleurmannetjie op die manier kan maak. Lekker speel!


Wurm

Jong kleuters sal dit die meeste geniet om die wurm te maak, want hulle kan die meeste in die vingerverf mors! Let net daarop dat Mamma sal moet help om gaatjies te maak, te knip en aanmekaar te sit vir kleuters van alle ouderdomme.


1.  Knip vier eier houers uit die eier boksie en maak die randjies netjies.
2.  Verf elke houertjie in 'n ander kleur en los hulle om kurkdroog te raak voor jy verder gaan!
3. Jy kan probeer om die verskillende houertjies aan mekaar te plak, maar ons het vreeslik   daarmee gesukkel. Ons het gaatjies in die houertjies gemaak en 'n pypskoonmaker gebruik om hulle aan mekaar te ryg. Die res van die pypskoonmaker wat agter uitsteek het ek in 'n stertjie gekrul.
4.  Maak 'n gaaitjie aan weerskante van van die wurm se "lyf" met 'n skerp sker of 'n dik naald.
5.  Sny die pypskoonmakers in die helfte of in kwarte afhangend van hoe lank jy die bene wil he.
6. Druk die pypskoonmakers deur die gaaitjies en buig na begeerte. (Wees asseblief versigtig met die geknipte kante, hulle is nogal skerp.)
7. Plak of teken twee ogies op die kop.
8. Jy kan dit afrond met twee pypskoonmaker voelhorings as jy wil!

Spinnekop met wol bene


Maklik vir alle ouderdomme! Die knopies in die bene is goeie oefening vir ouer kleuters. Let net daarop dat Mamma sal moet help om gaatjies te maak, te knip en te voltooi vir kleuters van alle ouderdomme.


1.  Knip 'n eier houer uit die eier boksie en maak die randjie netjies.
2.  Gebruik vetkryt om die houertjie in te kleur.
3.  Maak agt gaaitjies, vier aan 'n kant,  met 'n skerp sker of 'n dik naald.
4.  Sny agt verskillende lengtes wol en druk dit deur die gaatjies.
5. Maak knopies op verskillende plekke op die bene om tekstuur en lewe te gee.
6. Plak of teken twee ogies op die kop.

Krappie

 Maklik vir alle ouderdomme! Let net daarop dat Mamma sal moet help om gaatjies te maak, te knip en te voltooi vir kleuters van alle ouderdomme.

1.  Knip 'n eier houer uit die eier boksie en maak die randjie netjies.
2. Kleur die houertjie met viltpen of inkleur potlode in.
3.  Maak ses gaaitjies, drie aan elke kant, met 'n skerp sker of 'n dik naald.
4. Ons het die pypskoonmakers heel gebruik en dit deur twee teenoorgestelde gaaitjies "geryg".
5.  Buig die bene en knypers (die voorste pypskoonmakers) na begeerte.
6. Plak of teken twee ogies op die kop.

Gogga

Slegs vir kleuters van 5 jaar en op. Ons het baie gesukkel met die gom papier, Mamma's gaan baie geduld nodig he!  Let net daarop dat Mamma ook sal moet help om gaatjies te maak, te knip en te voltooi.

1.  Knip 'n eier houer uit die eier boksie en maak die randjie netjies.
2. Gebruik gompapier (papier met gom aan die agterkant wat jy natlek en plak) om die houertjie te bedek. Skeur die gompapier in baie klein stukkies en maak seker dit is goed nat wanneer jy dit plak.
3.  Maak vier gaaitjies, twee aan elke kant, met 'n skerp sker of 'n dik naald.
4. Knip die pypskoonmaker in kwarte en steek deur die gaaitjies. Jy kan die pypskoonmaker se rand aan die binnekant van die gogga ombuig om seker te maak dat dit nie sal uitval nie.(Wees asseblief versigtig met die geknipte kante, hulle is nogal skerp.)
5.  Buig die bene na begeerte.
6. Plak of teken twee ogies op die kop.

Wat gebeur op "Kreatiewe Kleuter"?


Kreatiewe Kleuter beoog om weekliks kreatiewe aktiwiteite vir peuters en kleuters op te laai. Die aktiwiteite sal wissel in moeilikheidsgraad om vir peuters en kleuters van alle ouderdomme te akkomodeer.

Terugvoer op die aktiwiteite is welkom, sowel as vrae en voorstelle!

Hoop julle geniet die blog

Woensdag 10 April 2013


Kreatiewe Kleuter beoog om weeklikse kreatiewe aktiwiteite vir kleuters en peuters op te laai. Die aktiwiteite sal wissel van bak en brou, na knip en plak, maak en breek na stories luister, opvoer, sing en skoolgereedheid! Al die aktiwiteite word beproef voor dit geplaas word.

Lewer asseblief kommentaar op die aktiwiteite en jy is welkom self ook om voorstelle te stuur.

Geniet dit!